Pynstiller

Morfiensulfaat
Heroïnpoeier en in pilvorm

Pynstillende medisynes of analgetika kan in twee hoofgroepe verdeel word: narkotiese analgetika, waartoe onder meer morfien behoort, wat veral op die brein inwerk en gewoontevormend van aard is, en nie-narkotiese analgetika, wat waarskynlik ʼn plaaslike pynverdowende effek het sowel as 'n uitwerking op die brein.

Dit is dikwels ook koorswerend en anti-inflammatories. Die werking van hierdie middels kan dikwels skade aan die maag, niere en bloed veroorsaak. Pyn kan veroorsaak word deur weefselbeskadiging, waardeur die gevoelsenuwee direk geprikkel word, of deur die inwerking van bepaalde stowwe soos histamiene en prostaglandiene op die gevoelsenuwee. Die pynprikkel word langs senuweebane na die brein gelei en bewuswording van pynervaring vind plaas.

Die belewing van pyn is subjektief en kan deur emosionele faktore soos angs en vorige ervaring van pyn versterk word. Pyn kan op verskeie maniere bestry word, byvoorbeeld deur blokkering van die gevoelsenuwee (plaaslike verdowing); bewusteloosheid (algehele verdowing); uitskakeling van die pynprikkel; deur die gewaarwording van pyn in die brein te onderdruk en deur gerusstelling of kalmering.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search